Copyright © 2016 LOWVELD BOOK FESTIVAL.
Website developed  by THE SITE SHAPER
Alita Steenkamp
Boeke, verhale en mense se stories is alles onlosmaaklik deel van wie Alita Steenkamp is.

Sy het grootgeword in Pretoria en ’n BA graad in Kommunikasiekunde, en ’n BA Honneurs in Afrikaans-Nederlands aan die Noordwes-Universiteit behaal. As vryskutjoernalis skryf sy sedert 2002 artikels vir ’n wye verskeidenheid publikasies soos Vrouekeur, Lig, Taalgenoot, Rooi Rose, Rapport Tydskrif, Lééf, en Idees. Die artikels is wisselend van aard: profiele van bekendes, huweliksake, kinderopvoeding, menswees en reisartikels.

In 2008 tree sy as spookskrywer op met die skryf van Hestrie Cloete-Els se outobiografie, My pyn, my glorie. (Joho Uitgewers.) Die volgende boek wat sy skryf is Mathys Roets se outobiografie, Steeds Mathys  wat in Julie 2010 by Naledi verskyn. Hierna skryf sy Loui Fish se boek Onsinkbaar wat in Oktober 2012 deur Lapa gepubliseer is. Die boek is ook in Engels vertaal as Walking in my Choos. In 2013 verskyn nog ’n boek van Alita, Veronica, die Kleur van Liefde, by Lapa. Die boek is gebaseer op die ware verhaal van Veronica van Vollenhoven, ’n bruin vrou wat onder baie slegte omstandighede grootgeword het. In 2015 verskyn Wynie, My Bloed is Blou, by Penguin Randomhouse, ’n outobiografie van die Bloubul-spanbestuurder, Wynie Strydom. Daar het ook verskeie tydskrifkortverhale uit die pen van Alita verskyn. Van haar kinderversies is in Rympies vir Pikkies en Peuters (NB Uitgewers) opgeneem.
Alita Steenkamp
Sy is getroud met die ondersoekende joernalis en skrywer, De Wet Potgieter en hulle woon in Centurion. Sy hou van tuinmaak, lees en fliek en die drie hondekinders en een katkind, maak haar lewe vol noudat albei haar dogters, en De Wet se seun, reeds op hul eie voete staan.
Alita Steenkamp
Website developed  by THE SITE SHAPER
Copyright © 2016 LOWVELD BOOK FESTIVAL.